Carleigh stap 'doringpad na geluk'

Worcester Standard, 13 Junie 2019 | geskryf deur Cathy Hugo

Een môre douvoordag, terwyl die oggendson nog loer op die horison en ek loop en my lot bekla, gewaar ek vir Carleigh met ‘n opvallende lied in haar hart.  Haar pad kruis met kennisse en hul lag en gesels en groet tot later vir hul koffie-afspraak in die Blindiana Barista.  “Ons sien mekaar sonder oë,” sê sy vir my.  “Ons hoef mos nie te kan sien om die vreugdes van die lewe te geniet nie,” benadruk sy glimlaggend terwyl sy wegskarrel om betyds by die algemene projekte afdeling in te klok vir haar werksdag.  Carleigh se blymoedigheid laat my beskaamd staan.

Carleigh du Plessis is in 1998 op ‘n plattelandse dorpie net buite die Kaap gebore.   Sy vertel hoe sy as kind nooit kon verstaan hoe sy gedurig in alles vasgeloop het nie.  Sy het van kleins af reeds baie vrae gehad oor hoekom, tot haar oupa op ‘n dag die moed bymekaar geskraap het om haar donker realiteit met haar te deel.  Die werklikheid van haar oupa se ontnugterende woorde het haar verwar, frustreer en ontstel, maar opgee was nooit ‘n opsie nie!

Sy het later as 8-jarige haar ouerhuis verlaat om by die Pionierskool vir Siggestremdes op Worcester aan te sluit en sit na skool haar lewenspad voort by Innovation for the Blind (voorheen Instituut vir Blindes) met vaardigheidsontwikkeling en versorgingsdienste.

Carleigh sê haar hande is haar oë … om haar bed op te maak, popcorn te skiet, tee te maak en haar gunsteling kosse voor te berei.  Sy vertel trots hoe sy skottelgoed was en wegpak sonder om breekgoed flenters te laat val!   Sy erken haar “blinde-pad” is nie ‘n maklike pad nie, maar sy weier om ‘n slaaf van haar gestremdheid te wees.  Sy straal ‘n dankbare vreugde uit - dankbaarheid vir onderskraging en steun oor die jare, vir die opregte omgee van vriende en vir ‘n veilige hawe en ondersteuningsnetwerk soos Innovation for the Blind.  Sy noem haar reis tot waar sy vandag is “my doringpad na geluk”!

Sy geniet klavier speel en stories lees en kuier gereeld in die braille biblioteek.  Maar haar grootste liefde is om uitdrukking te gee aan haar gevoelswêreld deur woorde neer te pen.  Haar drome, vrese en frustasies kry lewe as sy skryf en dit gee vir haar moed om die onbekendheid van ‘n nuwe dag aan te durf.  Haar bevrydende stories bemoedig haar siggestremde maats en inspireer almal wat bevoorreg is om haar lewensruimte te deel. Haar groot droom is om eendag haar eie digbundel te publiseer.

Die blote feit dat u hierdie woorde kan sien, plaas u in ‘n bevoorregte posisie. Dankie vir u helder lig wat skyn in blindes se duisternis.

201906 Dare to Care Junie