Help Janine haar sport-droom bewaarheid

HELP JANINE HAAR SPORT-DROOM BEWAARHEID

Janine Barends, ‘n siggestremde dame, is gekies om die Wes-Kaap te verteenwoordig tydens die Nasionale South African Sport Association for the Physically Disabled (SASAPD) Kampioenskappe in Stellenbosch van 20 tot 22 Maart 2019.

Janine is ‘n kranige doelbal-speler en dit is die eerste keer in die geskiedenis van Innovation for the Blind (voorheen Instituut vir Blindes) dat ‘n dame gekies is om die Wes-Kaap te verteenwoordig.

Doelbal is ’n sport wat al etlike jare deur siggestremde persone gespeel word. Daar is drie spanlede aan elke kant – elke speler word geblinddoek. Die een span moet ‘n doel probeer kry deur die bal te rol na die ander span wat dan probeer verhoed dat daar ‘n doel aangeteken word. Die bal het klokkies binne sodat die spelers kan bepaal waar die bal is.

Janine is tans werksaam by ons wolwinkel, The Wool Spot, en beskik nie oor die nodige fondse om self die uitgawes van die kampioenskappe te finansier nie.

Die kostes beloop R10,000 en sluit klere, inskrywingsgeld, akkommodasie, vervoerkoste, sakgeld en etes in.

Indien u graag ‘n bydrae wil maak, kontak ons gerus: 023 347 2745 | info@innovationfortheblind.org

Janine is op 28 Maart 1991 gebore en op die teer ouderdom van 2 maande het sy tragies amper haar lewe verloor in ‘n brand by haar huis op ‘n plaas in Villiersdorp.  Op hierdie koue, somber dag in Mei 1991, los haar ma haar op die rusbank voor die kaggel terwyl sy vinnig wegglip om ‘n pakkie by die buurvrou op te tel.  Met haar tuiskoms is die huis omring deur rook en die rusbank, met Janine op, verswelg in vlamme.

Janine, onherkenbaar verbrand op haar gesig en bo-lyf, is hospitaal toe gehaas.  Haar linker handjie moes geamputeer word.  Haar linker oor en neus is heeltemal weggebrand en die geweld van die vlamme het haar blind gelaat in haar linker-oog met net effense sig in haar regter-oog.  Die Mediese Praktisyn het haar 10 dae gegee om te oorleef … maar, met haar toegewyde ma aan haar sy, was hierdie brawe dogtertjie vasberade om nie op te gee nie!

Na vyf jaar van in en uit by die Rooikruis Hospitaal, waar sy pynlike veloorplantings, rekonstruksies en operasies moes verduur, sluit sy op die ouderdom van 6 jaar aan by die Pionierskool vir Siggestremdes op Worcester. Hier is sy met ope arms verwelkom en die geleentheid gegun om haar skoolloopbaan te voltooi in ‘n liefdevolle en ondersteunende omgewing, waar die personeel trots toegekyk het hoe sy ontwikkel tot ‘n onafhanklike, selfversekerde jong dame.