Innovation for the Blind hoof sien blink toekoms

Worcester Standard | 02 Mei 2019

Nasifa Sulaiman

Innovation for the Blind (IftB) het onlangs die eerste vroulike hoof uitvoerende beampte in die geskiedenis van die organisasie verwelkom.

Stephne Botha (35), wat haar nuwe pos op 1 Maart amptelik ingeneem het, sê sy is trots en sien uit na wat voorlê.

Botha, ‘n gekwalifiseerde arbeidsterapeut, het in Ceres groot geword, in Stellenbosch studeer en haar gemeenskapsjaar in die Noord-Kaap gedoen.

“Die hospitaal het my na my gemeenskapsjaar ‘n senior pos aangebied en hoewel ek daar groeigeleenthede gekry het, het ek binne vier jaar my piek vir daardie stadium bereik. Dis toe dat ek terug Boland toe gekom het,” sê Botha.

Botha het verneem van en aansoek gedoen vir ‘n arbeidsterapie pos by die vereniging vir mense met gestremdhede (APD) in Worcester.

“In die tyd wat ek by APD was, het ek ‘n kerkoptrede van Innovation for the Blind (daardie tyd was dit Instituut vir Blindes) bygewoon. Ek het in die kerk gesit en vir myself gesê ek gaan op ‘n manier by hierdie spesiale organisasie betrokke raak – al is dit as vrywilliger. Dit was in Januarie 2010. Daar was nie ‘n arbeidsterapeut pos nie, maar in Mei daardie jaar is ‘n pos adverteer en in Augustus 2010 het ek my nuwe loopbaan by IftB begin,” sê Botha

Sy het in die daaropvolgende nege jaar van arbeidsterapeut tot bedryfsbestuurder in 2017 en uiteindelik uitvoerende hoof gevorder. “Ek beskou my posisie as hoof van ‘n organisasie sonder winsbejag as ‘n reuse voorreg. Ek is ‘n absolute optimis wat as leier daarna streef om met dryfkrag en energie ‘n positiewe uitwerking in die lewe van mense met visuele gestremdhede, ons inwoners, personeel en ook in die gemeenskap te hê,” sê Botha.

“Vir die toekoms sien ek ‘n organisasie wat gaan bou op ons trotse Christelike karakter om dienste te lewer aan mense met visuele gestremdhede. Ons sal altyd daarna streef om ons verantwoordelikheid teenoor die mense in ons sorg na te kom en om vir hulle geleenthede te skep om te leer en te ontwikkel,” sê Botha verder.

“Daar is baie wat ek graag wil sien moet gebeur waarvoor ons defnitief die gemeenskap nodig het. Die enigste manier hoe ons suksesvol gaan wees, is as ons almal saam staan,” sê sy.

Volgens Botha is haar visie vir die toekoms vir IftB om weer ‘n bestendige grondslag te hê. “Jy kan nie groei wanneer jou basis nie stabiel is nie. Soos baie mense weet, moes ons die organisasie in 2018 weens ernstige finansiële probleme baie kleiner maak. Dit was ‘n baie moeilike tyd vir almal. Nou fokus ons weer op die toekoms. My visie vir die volgende vyf jaar is om te kyk hoe ons ‘n hulpbron vir mense met visuele gestremdhede kan word. Ons moet ons benadering verander sodat ons dienste aan hulle saam met ander organisasies kan uitbrei. Die IftB hoef nie die primêre diensteverskaffer te wees nie, maar moet gewis as vennoot dienste ondersteun.”

Botha sê sy is met optimisme in haar nuwe pos verwelkom.

“Ek wil hê my nalatenskap moet wees om voortdurende groeigeleenthede vir die organisasie te skep en om ‘n verskil in die lewe van mense te maak,” sê sy.

 

Worcester Standard Artikel, 2 Mei 2019, IftB hoof sien blink toekoms