Schalk stel boek bekend én doen stand-up komedie in Worcester!

Schalk stel boek bekend én doen stand-up komedie in Worcester!

Op Woensdag 18 Julie tree Schalk Bezuidenhout, die krulkopkomediant met sy kenmerkende truitjies en skerp tong, op in Worcester by die Danie Luckhoffsaal in Worcester. Om 19:00 stel hy sy nuwe boek, Truitjie roer my nie, saam met medeskrywer Erns Grundling bekend en daarna tree hy op in sy eenmanvertoning Voksbesit.

Schalk en Erns is na Worcester genooi deur Innovation for the Blind. “Ons is so opgewonde om vir Schalk en Erns in Worcester te ontvang - hulle het ‘n groot ondersteunersbasis in die dorp,” sê Corrie Malan, fondswerwer. “Hierdie tipe funksies speel ‘n belangrike rol in ons organisasie om nodige fondse te genereer, maar ook om ons ondersteuners en vriende te nooi om saam te kuier.”

Schalk Bezuidenhout is die mees opwindende nuwe stem in Suid-Afrikaanse stand-up. Sedert hierdie boorling van Kempton Park in 2015 (en weer 2017) in Trevor Noah se voorprogram opgetree het en 'n solo-vertoning op Comedy Central uitgesaai is, het hy vinnig 'n huishoudelike naam geraak. Hy het ook reeds twee Comics Choice-toekennings en ’n gesogte SAFTA ingepalm. Schalk is deesdae 'n bekende gesig op televisie, veral in die rol van die geliefde Danny in die kykNET-reeks Hotel en as anker van die satiriese nuusprogram Die Ware Naarheid met Schalk Bezuidenhout, ook op kykNET.

Truitjie roer my nie word uitgegee deur Queillerie en maak deel uit van Exclusive Books se gewilde Homebru-promosie. Die boek vertel die storie van Schalk se grootwordjare, sy reuse opgang in stand-up komedie en van die vele avonture wat hy en Erns al saam regoor Suid-Afrika beleef het. Tydens die boekebekendstelling Erns en Schalk meer vertel oor hoe die boek ontstaan het en ook elkeen ’n voorlesing doen.

Schalk het reeds landwyd met Voksbesit getoer en verlede jaar by die Woordfees, KKNK, Vrystaat Kunstefees, Innibos en Aardklop vir duisende feesgangers met hierdie vertoning laat skaterlag. Hy het ook in Oktober verlede jaar ’n DVD van Voksbesit opgeneem by Evita se Perron in Darling.

Die gehoor kan uitsien na Schalk op sy beste, met vlymskerp waarnemings en sosiale kommentaar oor die lewe en die land waarin ons leef. Voksbesit sal baie reaksies by jou uitlok, waarvan lag sommer lag-lag die grootste is.

Besonderhede van vertoning:Venue: Danie Luckhoffsaal, Tulbaghstraat 135, Worcester

Datum: Woensdag 18 Julie
Tyd: 18:30 vir 19:00
Oudersdomsbeperking: Geen o/14

Kaartjies: R180 per persoon (sluit ligte ete in). Kontankroeg beskikbaar.
Besprekings:  Rachael Malan by 023 347 2745 of info@innovationfortheblind.org