'n Mens weet nooit
Geskryf deur: Dalene Matthee • Opgevoer en geproduseer deur: Innovation for the Blind
We proudly present our first radio drama - ''n Mens weet nooit' by Dalene Matthee. The production was voiced, composed and recorded by our very own visually impaired residents at Innovation for the Blind. We hope you enjoy this production as much as we do.
It is split into three parts. Please click on the links below to listen to the different parts of the production.
Ons is baie opgewonde en trots om ons eerste radiodrama bekend te stel - ''n Mens weet nooit' deur Dalene Matthee. Die produksie was saamgestel, opgeneem en voorgedra deur ons eie siggestremde inwoners hier by Innovation for the Blind. Ons hoop julle geniet die produksie net soveel soos ons.
Die produksie is verdeel in 3 dele. Volg gerus die onderstaande skakels vir die verskillende dele.
Part/Deel 1 - https://youtu.be/efw_6EIzhiU Part/Deel 2 - https://youtu.be/Drz5r0WPaNI
Part/Deel 3 - https://youtu.be/SJEBgHxbkbA
Wysie oor die Water
Geskryf deur: Albert Short • Opgevoer en geproduseer deur: Radio Innovation (Innovation for the Blind) • Uitgesaai deur: RSG
Indien jy die radiodrama gemis het luister dit gerus HIER
Met groot opwinding het die inwoners van Innovation for the Blind op Vrydag 6 Desember bymekaar gekom om na Wysie oor die Water te luister wat op RSG uitgesaai is. Die drama is geskryf deur Albert Short en speel af op ‘n stormagtige nag op ‘n skip. ‘n Meisie bevind haar op die skeepsdek, alhoewel sy weet dat die veiligste plek eintlik haar kajuit sou wees. Nogtans bly sy, en ontmoet sy ‘n misterieuse jong man. Dadelik is dit asof hulle mekaar ‘n leeftyd al ken. In die verwarring van golwe, seewater en wind raak dit al hoe moeiliker om helder te dink. Wanneer reuse golwe oor die dek spoel en jy skaars kan sien wat om jou aangaan, is dit maklik om perspektief te verloor. Later wonder jy: waar is ek, en hoe lank is ek al hier? Maar net soos wat ‘n storm op die see vrees en verwarring bring, bring dit later ook kalmte en rus. En nuwe geleenthede. Ander dinge om te beleef.
Wat hierdie radiodrama so spesiaal en uniek maak is dat die hele produksiespan visueel gestremd is. Vir ‘n paar maande het vyf van ons inwoners hulle harte en siele in hierdie produksie ingesit. Daar was baie frustrasie, moedeloosheid en soms ‘n bietjie trane, maar op die ou end was dit als die moeite werd. Op hierdie lekker warm somersoggend gesels ons Uitvoerende Hoof, Stephné Botha met die hele span. Aan haar regterkant sit Gavin Grundlingh, die klank ingenieur, FC Smit wat die hoofrol van Nicholas vertolk en Sanna Antonie wat die hoofrol van Jakoba vertolk. Aan haar linkerkant sit Morné van der Merwe wat al die musiek en van die byklanke behartig het en die reggiseur, Sarel van der Westhuizen. Hierdie span was ongelooflik en dit was ‘n voorreg om na hulle staaltjies te luister.
Eerste aan die beurt was Gavin, Innovation se eie klank ingenieur. Gavin het homself alles geleer wat hy vandag weet. Hy was verantwoordelik vir die opname en tegniese versorging van die radiodrama, maar moenie dink dit het sonder ‘n paar uitdagings gekom nie. Na die eerste paar opnames het hulle gou besef die ateljee is nie klankdig nie en moes hulle binne ‘n paar dae ‘n plan maak, maar nietemin is dit gedoen en kon hulle gou weer aan die werk spring. Gavin lag terwyl hy vertel hoe hy en Sarel in die middel van die winter in die swembad moes klim om die byklanke van die see te maak. Dit was omtrent groot pret! Hulle het gladnie ‘n klank biblioteek gebruik nie en alle klanke is self vervaardig. Hy het ongeveer 5 na 6 ure gewerk om hierdie radiodrama van 15 minute saam te stel. Tenspyte van ‘n paar uitdagings kan mens hoor Gavin het elke oomblik van hierdie geleentheid geniet en hy hoop om meer visueel gestremde persone op te lei as klank ingenieurs en hy glo vas waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg.
Morné van der Merwe, ‘n visueel gestremde Musikant het van die byklanke van Wysie oor die Water beharting. Aanvanklik was die stuk geskryf met ‘n fluitspeler in gedagte, maar na ‘n gesprek tussen Stephné en Albert was hy ook dadelik opgewonde om dit eerder na ‘n vioolspeler te verander. Morné het ‘n groot taak op sy hande gehad, maar hy het homself oortref. Hy het homself ingeleef in die omgewing van die drama en hy het daarvolgens die stuk self geskryf wat gehoor word in die radiodrama. Nie net is die musiek op die viool geproduseer nie, maar daar was ‘n paar ander interressante byklanke wat hulle moes vasvang soos die klank van die viool wat onder water gespeel word wat hulle met goeie samewerking kon bemeester. “Tussen ‘n koue swem en sewe oktawe later, ‘n hek wat kraak, ‘n paar klippe en ‘n viool het ons hierdie ding gedoen.” As musikant is Morné se raad aan ander om vir die wereld te wys waartoe jy in staat is, wees altyd positief en wys vir die mense daar buite wat jy kan doen. Volg jou pad en wees die verandering wat jy graag wil sien.
Vir die reggiseur, Sarel van der Westhuizen, was hierdie ‘n eerste, maar beslis nie die laaste keer wat hy die regie van ‘n radiodrama sal wil doen nie. Sy grootste taak was om seker te maak dat die skrywer se droom uitgeleef word in terme van die toneelspel, uitbeeld van karakters en om die gevoel vas te vang. Alhoewel hy sy naels stomp af gekou het, was dit vir hom ‘n ongelooflike ervaring. Sarel was al voorheen die reggiseur van ‘n paar teaterstukke, maar hierdie produksie was vir hom baie meer uitdagend omdat hy seker moes maak die luisteraar voel die emosie van die karakters sonder om hulle te sien. Dit was ‘n groot leerskool vir die hele span. Vir Sarel was daar baie hoogtepunte veral die swem in die yskoue winter en die feit dat die span so lekker saam gewerk het. Elkeen het so belangrike rol gespeel om van hierdie projek ‘n groot sukses te maak. Hy sal baie graag in die toekoms weer deel van so projek wil wees en het sy dankbaarheid aan sy hele span betuig.
Dit was FC Smit se eerste keer wat hy in ‘n radiodrama gespeel het en hy het eerlikwaar nie gedink hy sou die rol van Nicholas kry nie. Hy wou eintlik nie eers gaan vir die oudisie nie, maar sy vriendin het hom aangemoedig en vandag kyk hy nie een keer terug nie. FC is gladnie so rustig soos sy karakter nie en dit was nogal vir hom ‘n groot uitdaging om homself te transformeer om meer kalm en rustig voor te kom. Hy het geleer dat musiek hom help om van sy daaglikse “storms” te vergeet en dat dit eintlik ‘n ontsnapping vir hom is. Aan die begin was daar baie frustrasie, maar op die ou end het ‘n snaakse oombik tussen hom en Sanna die ys gesbreek en van daar af het alles seepglad verloop. Alhoewel FC geen ervaring in drama het nie, hoop hy sy loopbaan as radiodrama akteur het sopas afgeskop. Hy wil graag nuwe moontlikhede ondersoek en dit verder vat. Hy het het ook baie nuwe idees vir Radio Innovation soos boekvoorlesings en eenman stukke.
Sanna Antonie wat die rol van Jakoba vertolk het is Innovation se geliefde skakelbordbeampte. Met haar mooi, harde stem het niemand getwyfel dat sy die rol sou kry nie. Nes FC, het sy ook nie gedink sy gaan die rol kry nie en sy het ook maar aanmoediging nodig gehad, maar vandag is sy dankbaar dat sy deel van so ongelooflike produksie kon wees. Sanna hou van haar eie spasie en haar grootste uitdaging was om in ‘n span te werk. Sy moes uit haar boksie klim en elke keer moed bymekaar geskraap het voor ‘n oefening. Maar met elke oefening het sy die span beter leer ken en so het dit vir haar makliker geraak, en het sy op die ou einde eintlik baie lief geraak vir almal. En dit was toe ook haar grootste motivering om aan te hou. Sy moedig ander visueel gestremde persone aan om hulself meer krediet te gee wanneer hulle goed doen en om in hulself te glo.
"Unity is strength... when there is teamwork and collaboration, wonderful things can be achieved." – Mattie Stepanek
Indien jy die radiodrama gemis het luister dit gerus HIER