Innovation vier 142 jaar
Dit neem ‘n ongelooflike visie om 142 jaar te kan oorleef en steeds getrou te kan bly aan jou bestaansrede – om dienste te lewer aan persone met visuele gestremdhede. By Innovation for the Blind is ons visie wel baie groter as net die dienste wat ons lewer. Dit wát ons doen – sorgdienste aan 350 persone wat bestaan uit 260 volwassenes met visuele gestremdhede ingesluit 50 doofblindes asook sorgdienste aan 90 bejaardes met en sonder visuele gestremdheid asook die 170 persone wat inskakel by werksgerigte programme – is nie so belangrik soos die “hoekom” agter ons dienste nie. Dit sal altyd ons hoogste prioriteit bly om waardigheid te gee aan persone met visuele gestremdhede en hul geleenthede tot onafhanklikheid te bied t.o.v. alle aspekte van die daaglikse lewe óf dit sorg is óf werk óf vryetydsbestedingsaktiwiteite.
Ons streef ook daarna om vir persone met visuele gestremdhede die geleentheid te bied tot ware integrasie in die samelewing. Dit kan slegs gebeur as ons die stigma en hindernisse kan afbreek en vir die wêreld ‘n kykie gee in die leefwêreld van persone met visuele gestremdhede. Hierdie kykie moet in die woorde van ons mense gedeel word, en daarom gee ons graag vandag vir hulle ‘n stem om self te vertel van hul wêreld:
Wie sal verstaan…
- die angs as jy op 5 jaar oud moet hoor “jy is blind” – en jy alles wat bekend is moet agterlaat om na ‘n skool in Worcester moet reis om te leer
- die onsekerheid of jy eendag ‘n werk sal kry en die hoop op ‘n beter toekoms tenspyte van die hindernisse wat jou beperkte sig bied
- dat jy moet staatmaak op jou gehoor en tas om te weet wie is vriend en wie is vyand
- dat jy wonder hoe lyk blou, hoe lyk sneeu op die berge, hoe lyk die see of ‘n sonsondergang
- dat jy wonder – hoe lyk ek
- die frustrasie as mense jou goed rondskuif sodat jy ure moet soek na iets wat net buite bereik lê
- die frustrasie as niemand sê jou een sokkie is pienk en die ander een is groen nie
- die onsekerheid as jy nie weet waar “hierdie kant of daardie kant is nie”
- die disorientasie in ‘n groot vertrek met geen bakens
- die seer as jy in ‘n oop kardeur of ‘n motor wat op die sypaadjie parkeer is vas loop
- die skaam as jy agterkom jy gesels met jouself omdat die persoon geloop het sonder om te sê
- die hulpeloosheid as die wind waai en jy jou pad in die donker verloor het
- die angs as jy ‘n besige pad moet kruis sonder sig
- die hartseer as jy op jou geliefde kind se speelding getrap het en dit is stukkend
- die skuldgevoel as jy nie meer kan help met dinge soos om jou kinders rond te ry of te neem na n sport byeenkoms nie
- die wens om net een maal jou geliefde te sien, of weer jou kleinkind se glimlag te sien
- die moedeloosheid as jy “blind” probeer verduidelik aan jou kinders
- die isolasie en totale donkerte wanneer die ligte van jou oë vir die laaste keer uitdoof
… net die blinde sal verstaan.
Ons is dankbaar vir elke persoon met ‘n visuele gestremdheid wat nie toelaat dat struikelblokke hul terug hou nie, wat nie toelaat dat uitdagings hul drome inperk nie. Wat elke dag met ywer en toewyding hul take aanvat by Innovation se werksprogramme. Wat met blitsige vingers oor die braille beweeg om te leer en te groei en te ontwikkel. Dankbaar dat ons krag by die Here vind. Mag die toekoms altyd beter en meer geleenthede inhou vir persone met visuele gestremdhede om hul ongelooflike potensiaal te bereik!