Bederf jouself met goeie massering
Worcester Standard | 08 Junie 2023
Tamsyn Jantjies
Innovation for the Blind het onlangs sy Wellness Centre geopen.
Die idee vir die sentrum het jare gelede ontstaan toe van die inwoners graag wou leer hoe om masserings te doen.
“In daardie stadium was ek nog ‘n arbeidsterapeut hier en het toe aan ‘n informele kursus begin werk en met hul opleiding begin. Maar die projek het toe vir ‘n hele paar jaar stilgestaan. Later het daar weer inwoners gekom en gesê hulle wil dit aanleer. Teen daai tyd was ek toe al die uitvoerende hoof van Innovation for the Blind. Vrywilligers uit die gemeenskap is toe genader om met die opleiding te help en die raadsaaltafel is sommer ingespan vir opleidingsdoeleindes. Nog ‘n paar jaar later het Innovation for the Blind besluit om dit ‘n meer formele deel van die organisasie te maak. Ons het toe ‘n klein vertrek ingerig. En dis toe die droom om hierdie afdeling nog verder uit te brei, ontstaan het. Dis ook toe Terelga Bald by ons aangesluit het.”
Bald het haar sig in 2020 as gevolg van gloukoom verloor, maar was vasberade om steeds ‘n opwindende lewe te lei en het besluit om refleksologie by die Beauty Therapy Institute te gaan leer.
“Ek is opreg opgewonde hieroor. Ek is ook opgewonde oor die feit dat mense kan leer en bemagtig word en as gevolg hiervan weer lus is vir die lewe. My hoop is dat ons die publiek se ondersteuning sal ontvang, want ons bied dieselfde dienste aan as ander plekke, ons is op dieselfde manier opgelei. Ek hoop dat ander plekke van ons opgeleide mense sal aanstel. En ek hoop dat ons kan voortgaan om meer mense hierin op te lei,” sê Bald. Botha meen Bald is fenomenaal.
“In samewerking met Terelga het ek toe ‘n geleentheid gesien om die projek in werksgeleenthede om te skep. Terelga is fenomenaal, sy het ons inwoners opgelei en ons het die beste drie gekies om masseuse en masseur te wees,” verduidelik Botha.
Hulle rol tans die eerste fase van die Wellness Centre uit.
“Ons het ‘n vraag op ons Facebook-blad gepos waar ons vra watter dag die publiek dink die sentrum moet oop wees. Vir eers gaan ons net een dag per week oop wees sodat ons kliëntebasis kan groei en so ook mettertyd ‘n volwaardige diens kan lewer.”
Sy vertel ook hoe opgewonde die masseuse en masseur is.
“Hulle is verskriklik opgewonde. Hierdie is vir hulle ‘n droom-werksgeleentheid. En ek hoop dat deur hierdie projek daar sommer nog baie nuwe geleenthede gaan kom.”
Vir die toekoms voorsien sy die uitbreiding van hul produkte by die sentrum, veral hul koffie-voetskrop-produk om sodoende ook vir ander werksgeleenthede te skep. Botha nooi graag die publiek uit om hul vraag op hul Facebook-blad, Innovation for the Blind, te beantwoord en ook om ‘n afspraak te maak vir ‘n professionele en ontspannende massering.