DARE TO CARE RUBRIEK | WORCESTER STANDARD
Innovation for the Blind lei blindes op om te ‘sien’
Stephné Botha | Hoof Uitvoerende Beampte
As ‘n organisasie het ons ‘n verantwoordelikheid om bewusmaking te doen ten opsigte van die ongelooflike vaardighede van persone met visuele gestremdhede. Bewusmaking sodat hul erkenning kan kry vir hierdie vaardighede, maar meer as dit sodat geleenthede ontsluit kan word waardeur persone met gestremdhede volle burgerskap en integrasie in ons samelewing kan geniet. By Innovation glo ons daarin dat ons die verandering moet wees wat ons graag wil sien – om dienste te lewer aan persone met gestremdhede is nie dieselfde as om saam met persone met visuele gestremdhede te werk om ‘n beter toekoms te skep waar persone die geleentheid kry om hulle volle potensiaal uit te leef nie. Ons deel graag met julle ons toekomsvisie en hoe dit besig is om ‘n realiteit te word.
Ons is so opgewonde vir die geleentheid om ‘n hulpbronsentrum tot stand te bring – die Innovation Hulpbronsentrum – ‘n plek waar persone met visuele gestremdhede, en die wat doofblind is, bemagtig word om nie net opleiding te ontvang nie, maar ook die geleentheid het om self opleiding aan te bied.Hierdie rekenaaropleiding en opleiding aan doofblinde persone deur middel van tegnologie, ook opleiding in alternatiewe kommunikasiemetodes, sal gemaklike en effektiewe kommunikasie bevorder tussen doofblinde persone en personeel. Die laaste komponent van die hulpbronsentrum is ‘n Barista Opleidingsentrum. Ons is besig om ‘n vennootskap te vestig met Joseph Matheatau, Suid-Afrika se eerste blinde barista. Hy sal oor die volgende jaar, deur middel van ‘n verskeidenheid geakkrediteerde opleidingskursusse en ‘n internasionale SCA (Speciality Coffee Association) eksamen, die eerste persoon met ‘n visuele gestremdheid word wat internasionaal geakkrediteer is as Barista Opleier. Ons is ongelooflik trots op sy onderskeiding wat hy behaal het na afloop van sy eerste eksamen. Sy deursettingsvermoë en die ywer waarmee hy hierdie proses aandurf is ‘n inspirasie vir almal!
As u graag betrokke wil raak by ons organisasie, kontak ons gerus by info@innovationfortheblind.org
— Merk ook solank julle dagboeke – 1 September 2021 kuier Hykie Berg, bekend as dokter Conrad Bester in Binnelanders, by ons jaarlikse Out of Office geleentheid. Volg gerus ons Facebook blad om op hoogte te bly of kontak vir Ciskia 023 347 2745 | ciskia@innovationfortheblind.org.