Dare to Care: Daar is altyd hoop… al het jou oë jou blindelings gegroet
– Cathy Hugo
Voor my sit ‘n mooi man met ‘n oop laggesig. Hy kyk my stip in die oë terwyl ons gesels… maar hy sien my nie. Hy sê sy oë het hom gegroet.
Marthinus en sy tweelingbroer, Hendrik, is op 12 September 1983 in Pretoria gebore. Hulle is twee maande te vroeg gebore en as gevolg van onvermydelike komplikasies is hulle oë aangetas.
Die twee het later, as swaksiende gr. 1-kleuters, by Prinshofskool vir Siggestremdes in Pretoria aangesluit.
Marthinus was ‘n ywerige leerder en geliefd onder sy onderwysers en siggestremde maats. Hy was ook gretig om sy eie sakgeld te verdien en het besluit om einde van sy gr. 10-jaar skool te verlaat om sy familie in hul snoepwinkel net buite Hartebeespoortdam te help.
Hy vertel hoe hy die snoepwinkel se kasregistergeld sommer so sonder ‘n optelmasjien kon laat klop! Uit ons gesprek is dit duidelik dat Marthinus ‘n intelligente jong man is. Hy het later ook ‘n liefde ontmoet en hulle is getroud, maar na ‘n mislukte katarakoperasie het hy sy sig verloor en sy het nie meer kans gesien vir die verhouding nie. Hul paaie het geskei.
Marthinus sê: “Ek het nooit gedink my oë sal my groet nie. Die gedagte aan ‘n toekoms sonder sig het my lewe op sy rug gekeer en die donkerte het my letterlik en figuurlik oorval. Ek was verpletter en het geglo daar is geen hoop vir my as blinde nie.”
Maar toe maak Marthinus kennis met Innovation for the Blind en ‘n lig van hoop skyn oor sy donker pad.
Hy het daar en dan ‘n kopskuif gemaak en besluit om sy uitdagings as blinde as geleenthede te gebruik en ander te inspireer… en wat ‘n inspirasie is Marthinus nie.
Op 36-jarige ouderdom het Marthinus hom in 2020 by Innovation for the Blind aangesluit. Nou het hy weer doelwitte en inspirasie en nuwe deure het vir hom oopgegaan.
Hy het vinnig nuwe lewensvaardighede aangeleer, sy langkierie-opleiding uitsonderlik gou bemeester en is ‘n baie gelukkige inwoner in sy nuwe tuiste, Huis de Villiers, vir siggestremde mans.
Marthinus het ook deel geword van die sportklub waar hy sy liefde vir atletiek, waarin hy op skool so goed presteer het, hervat het.
Maar Marthinus se inspirerende deursettingsvermoë en vreesloosheid stop nie daar nie. Hy het in 2021 sy vlak 4-ABET-opleiding as Innovation for the Blind se topstudent geslaag en doen nou voorbereiding om sy matriek te voltooi. Hy doen ook informele barista-opleiding om sy koffiewinkeldroom na te streef en werk in die metaal vaardigheidsontwikkelingsafdeling waar hy vernuftig passer- en draaiwerk doen. Voordat hy sy sig verloor het, wou Marthinus nooit vuil hande hê nie; nou kom hy elke aand met vuil hande by die huis, maar sê hy verruil sy werk vir niks.
Marthinus het gekies om bo sy uitdagende omstandighede uit te styg en geleenthede, wat ons as siendes so vanselfsprekend aanvaar, met albei hande aan te gryp. Hierdie positiewe, opgewekte man strewe elke oomblik daarna om ‘n inspirasie vir ander te wees. Hy is waarlik ‘n ambassadeur vir sy mede-inwoners, kollegas en vir Innovation for the Blind.
“Ek is dankbaar vir Innovation for the Blind, wat my weer in myself laat glo het. Ek besef nou om blind te wees maak my nie minder bevoeg as ‘n siende mens nie – ek moet net my uitdagings anders benader. My oë het my wel gegroet, maar dit gaan my gewis nie keer om my drome na te streef en te verwesenlik nie… vuil hande en al.”
