Oskar en die Pienk Tannie opgevoer voor ‘n doofblinde gehoor
Artikel soos verskyn in Die Son – 13 Julie 2022 | KELLY-LEE OHLSON
Dis ’n eerste
Die veelbekroonde verhoogstuk, Oskar en die Pienk Tannie, word eersdaags in Worcester voor ‘n doofblinde gehoor op die planke opgevoer.
Die opvoering, wat deur die veteraan-aktrise Sandra Prinsloo opgevoer word, word deur die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) aangebied.
Dit vind op Vrydag 22 Julie om 14:00 in die Danie Lückhoffsaal by Innovation for the Blind in Worcester plaas.
Die eregaste van die dag is sowat 30 lede van die doofblinde-gemeenskap in Worcester.
Niel le Roux, hoof van die SBA, sê die organisasie het ‘n mandaat om jaarliks op ‘n projek te fokus wat mense met gestremdhede help.
“Ons het al, byvoorbeeld, gebaretaal-opnames van wetenskap eksperimente laat doen, boeke laat brailleer, persone in rolstoele na die teater geneem, ‘n kinderinkleurboek aangepas vir kinders met leeruitdagings en tablette geskenk aan kinders met disleksie om hulle beter te laat lees.
“Ek wil my verstout om te sê dit is die eerste in die wêreld dat so iets aangepak word.
“Alle eer aan Sandra Prinsloo, ons voorsitter, wat bereid is om ‘n stuk in ‘stop and go’ te speel ter wille van die vertolking.”
Bevoel
Voor die opvoering sal daar eers ‘n inligtingsessie wees oor wat teater is en waaroor die opvoering handel.
Die doofblinde gehoor sal dan ook ‘n geleentheid kry om die verhoog te bevoel en om aan Sandra en haar kostuum te vat om so ‘n beter prentjie te kry van wat op die verhoog aangaan.
Tydens die opvoering is daar ook onderbrekings beplan sodat die doofblindes se tolke genoeg tyd het om aan die doofblindes te tolk. Elke hoor- en siggestremde het hul eie tolke.
Sandra sê sy weet die opvoering gaan nie maklik wees nie.
“Dis ‘n eerste vir die gehoor en vir my, maar ek sien uit daarna om self te leer uit die ervaring en om te sien hoe ons dit vorentoe nog kan verbeter.
“Die ander uitdaging is dat die gehoor verskillende grade van gestremdheid het. So, in daardie opsig word ek ook die gehoor sowel as die aktrise, want ek sal my deur my gehoor en hul behoeftes moet laat lei.”
Volgens haar is die doofblinde-gemeenskap van die mees gemarginaliseerde gemeenskappe.
“Dit is opwindend. Ons kan dalk iewers ‘n deur oopmaak vir hulle om iets te beleef wat vantevore vir die meeste van hulle onmoontlik was.”