Note weerklink weer
Artikel soos verskyn in Worcester Standard | 28 Julie 2022
Op Mandela se verjaarsdag word ons gevra om 67 minute lank iets vir ons naaste te doen in die gees van die 67 jaar wat Nelson Mandela vir sosiale geregtigheid geveg het. Mandela het basiese menseregte soos inklusiwiteit en gelykheid baie belangrik geag.
Johan Schronen, die uitvoerende hoof van Counting Kids, ‘n nie-winsgewende organisasie, wou die waardes graag prakties moontlik maak vir die inwoners van Innovation for the Blind (IftB). Innovation for the Blind streef daarna om geleenthede te skep om die inwoners se talente en vaardighede te ontwikkel. Daarom het Counting Kids en Innovation for the Blind dit goedgedink om die bekende “Noot vir Noot”-spel aan te pas.
Innovation for the Blind se inwoners se musiekkennis is merkwaardig. Sommige is geseën met ‘n pragtige stem, en ander kan weer ‘n musiekinstrument speel. ‘n Groep inwoners het die “Musiekfabriek” behartig.
Vier inwoners – Hansie Wessels, Jaco May, George Badenhorst en Arthur Breedt – het die vrae beantwoord.
Die kompetisie was warm en die aanbieder, Kobie Jacobs, het die deelnemers goed op hul tone gehou. Die gehoor het ook ‘n kans of twee gehad om ‘n vraag te beantwoord en pryse te wen.
Hansie Wessels is die trotse wenner van IftB se eie Noot vir Noot 2022.
Opregte dank aan Counting Kids vir die geleentheid.