Doofblindes kry teatervertoning
Artikel soos verskyn in die Worcester Standard | 28 Julie 2022

“‘n Geskiedkundige gebeurtenis. Wat ‘n belewenis! Ek het ‘n knop in die keel.”
So het lede van die doofblinde gehoor Vrydag (22 Julie) na afloop van hul eerste teaterervaring gereageer. Die geleentheid is deur die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) aangebied en in die Danie Lückhoffsaal by Innovation for the Blind in Worcester gehou.
Meer as 20 mense met verskillende grade van dubbele sensoriese gestremdheid het die geleentheid gehad om die opvoering van Oskar en die Pienk Tannie te beleef. Die verhoogstuk is deur die legendariese aktrise Sandra Prinsloo, ook die voorsitter van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans, vertolk.
Die ervaring was nie net vir van die doofblindes ‘n eerste nie, maar ook vir Prinsloo. Prinsloo het die oorspronklike emosionele en humoristiese verhoogstuk verkort om die mense wat vir die doofblinde gehoor getolk het, kans te gee om die storie soos dit op die verhoog opgevoer word, te tolk.
“Ek was bietjie op my senuwees of dit sou werk. Die terugvoer wat ons gekry het, dui egter aan dat dit bo verwagting goed gegaan het. Van die mense wil nou graag die hele vertoning sien. Ons kan dit gerus in die toekoms meer doen.”
Volgens Prinsloo was dit vir haar ook ‘n emosionele ervaring. “Ek is baie ontroerd oor hoe ontvanklik die gehoor was en oor hoe hulle gelag het en deel wou hê aan die opvoering.”
Die doofblindes wat die opvoering bygewoon het, se vlak van gestremdheid verskil van mens tot mens. Hul sitplekke is hiervolgens gerangskik sodat hulle die meeste uit die toneelstuk kon kry. Benewens dit het van hulle hul eie tolke gehad, maar van die tolke het vir twee mense op ‘n keer getolk.
Isy Randall (71) het vir haar twee kinders, Hennie Randall (39) en Madelaine van Zyl (40), getolk. Hennie het by navraag gesê dis hy en sy suster se eerste teaterervaring. “Ons het dit baie geniet. Ek het veral van Oskar se briefie gehou.” Van Zyl het op haar beurt gesê dit is ‘n oulike storie.
Jacqueline Abrahams (55), Michelle Benardie (51), Gart Connear (35) en Stefanus du Preez (47) se hoor- en siggestremdhede is op verskillende vlakke; tog het die viertal dit reggekry om die opvoering vir mekaar te tolk.
Melri Nel (17) van Pionierskool, die jongste lid van die gehoor, het die geleentheid met haar onderwyser, Suna Verhoef, bygewoon. Melri is baie beïndruk deur Oskar, oftewel Sandra se “snazzy” tekkies. “Die vertoning was baie lekker.”
Anroux Marais, die Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, Antoinette Steyn, die uitvoerende burgemeester van die Breedevallei, dr. Niel le Roux, hoof van die SBA, dr. Johan Pretorius, Wes-Kaapse bestuurder van DoofBlind SA en Rochelle McDondald, nasionale ontwikkelingskoordineerder van DoofBlind SA, is van die ander eregaste wat ook die geleentheid bygewoon het. Marais en Steyn het die SBA vir sy openhartigheid en betrokkendheid by die DoofBlinde gemeenskap geprys.
Pretorius was baie ingenome met almal wat die stuk moontlik gemaak het. Hy sê die opvoering vir die groep was ‘n “baie goeie deurbraak”. “Ek het ‘n knop in my keel gehad.”
Volgens hom ervaar doofblinde mense baie uitdagings. “Mense met dubbele sensoriese gestremdheid word baie gemarginaliseer. Ons is gewone mense met gevoelens. Ons kan seerkry en ons kan liefhê.
Jeanne Steenkamp, Prinsloo se verhoogbestuurder wat al 14 jaar saam met haar die verhoogstuk doen, sê die opvoering was vir haar ook ‘n unieke belewenis. “‘n Mens dink jy kom om iets vir iemand te doen, en dan doen hulle eintlik iets vir jou.”
Foto’s soos verskyn op SBA se Facebook-blad:







