LANGKIERIE VIER 100 JAAR
Chimoné Maartens
Tik tik tik. Dit is die klank van onafhanklikheid.
Dit is die geluid van persone wat siggestremd is wat ‘n langkierie gebruik om met selfvertroue na hul werk, in hul woonbuurte of na waarheen hul planne hul ook al neem, te navigeer. Die langkierie is ‘n mobiliteitsinstrument wat gebruik word deur blinde of swaksiende persone om selfstandig rond te beweeg – dink aan die langkierie as ‘n verlenging van jou arm. Die langkierie help persone om obstruksies op te spoor en veilig verby dit te kom.
Vanjaar is die 100ste bestaansjaar van die langkierie en is daar geen beter dag om die belangrikheid van die langkierie te vier as 15 Oktober nie – White Cane Safety Day. White Cane Safety Day word jaarliks op dié dag gevier om die prestasies van persone met siggestremdhede te eer, en die langkierie te erken as ‘n instrument om onafhanklike mobiliteit te bevorder.
White Cane Safety Day is ook om die publiek en motoriste bewus te maak van die belangrikheid van die langkierie. Vandag is die langkierie nie net ‘n instrument en hulpmiddel wat gebruik word deur persone met siggestremdhede nie, maar is dit ook ‘n simbool.
Het jy geweet?
- ‘n O&M praktisyn se langkierie opleiding aan ‘n persoon wat siggestremd is behels ongeveer ‘n maand van intensiewe daaglikse opleiding van so om en by 60 ure. Dit kan egter tot 2 na 3 maande neem vir ‘n siggestremde persoon om selfvertroue op te bou en heeltemal gemaklik te wees met die gebruik van die langkierie.
- Innovation for the Blind maak gebruik van ‘n rolpunt (gewoonlik ‘n gholfballetjie) aan die onderkant van die langkierie. Hierdie rolpunt tel baie meer inligting op omdat dit op die oppervlak rol.
- Die langkierie is wit as gevolg van James Biggs, ‘n kunstenaar van Bristol. Nadat ‘n ongeluk sy sig in 1921 geëis het, moes die kunstenaar aanpas by sy omgewing. Hy het besluit om sy kierie wit te verf om homself meer sigbaar te maak vir motoriste.
- Wanneer daar ‘n rooi band onderaan die wit langkierie is, beteken dit die persoon is doofblind.


Hierdie jaar wil Innovation for the Blind jou ‘n kyk gee in die wêreld van ‘n siggestremde. Kom kuier saam met ons op 15 Oktober by Ons Winkel, Kerkstraat 126, vir ‘n langkierie bewustheidstaptog – geblinddoek! Heerlike pannekoek sal ook te koop wees op Ons Winkel stoep teen R7 elk vanaf 08h00 – 13h00. Kontak vir Chimoné vir meer inligting of om u plek te bespreek (023 347 2745 | info@innovationfortheblind.org).
Sharon Goosen, Innovation for the Blind se bekwame Oriëntasie- en Mobiliteitspraktisyn, bied die volgende dienste aan persone met siggestremdhede:
- demonstrasie van hulpmiddels vir swak sig en ‘n bespreking oor die behoeftes van mense met gedeeltelike sig. Hierdie aanbieding is gemik op persone met visuele verlies sowel as die persone wat hulle ondersteun. Dit behels die assessering van individuele behoeftes en aanbevelings rakende toepaslike hulpmiddels.
- oriëntasie en mobiliteit by u huis; langkierie opleiding/assessering; onafhanklikheidsopleiding (daaglikse lewensvaardighede soos koffie maak, klere en geld identifiseer, stryk, kook, ens.); personeelopleiding; evaluering van toeganklikheid in die werkomgewing en demonstrasie van hulpmiddels in die werkplek.
Vir meer inligting, kontak Sharon by:
om@innovationfortheblind.org | 023 347 2745 | 072 277 3306