Innovation for the Blind vier 141 jaar
Innovation for the Blind vier vandag, 15 Junie, hul 141ste bestaansjaar!
Baie dankie aan elke vriend, vennoot, kerklike instansie, besigheid, trust, donateur, organisasie en medewerker vir jul ondersteuning sodat ons ‘n meetbare impak op persone met visuele gestremdhede kan maak.
Hierdie foto van ‘n kosbare brief met koevert het ‘n donateur onlangs aan ons gestuur.
Instituut vir Dowes en Blindes
Institute for the Deaf and Blind
Worcester 1881 – 1981
Brief:
Die Instituut vir Dowes en Blindes
In Junie 1881 is in die dringende behoefte aan onderwys vir gehoor- en gesiggestremde kinders voorsien to die Instituut vir Dowes en Blindes op inisiatief van di. W. Murray en C. Rabie en onder die beskerming van die Nederduitse Gereformeerde Kerk op Worcester gestig is.
Die eerste hoof, mnr. Jan de la Bat, het in 1881 diens aanvaar, Nadat die twee afdelings in 1905 twee outonome eenhede geword het, het hy by die Skool vir Dowes aangebly tot 1925.
Die Instituut vir Dowes lei vandag voorskoolse kinders en leerlinge tot matriekvlak op en versorg volwassenes. Daar is twee kleuterskole, nl. Een op Worcester en een in Bellville, en ‘n laer- en hoërskool op Worcester wat voorsiening maak vir dowes, hardhorende en geestesgestremde kinders.
‘n Werkwinkel verskaf werk vir diegene wat nie in die ope arbeidsmark kan meeding nie. Die gemeente De la Bat is spesifiek gestig vir die geestelike versorging van dowes.
Die dienste aan die publiek sluit in die evaluering van gehoorvermindering by alle ouderdomsgroepe en ook leiding aan ouers, onderwysers en kinders wat belang het by gehoorgestremdheid.
Die Instituut se leuse Effata wat op die 5c-seël verskyn, is die Aramede woord wat volgens Markus 7:34 deur Jesus Christus by die genesing van ‘n doofstomme gebruik is. Dit beteken Gaan oop.
Die Instituut vir Blindes bestaan uit ‘n skool, werkwinkel en tehuise vir bejaarde blindes. Die skool bied onderwys aan kinders met braille as medium, swaksiendes wat hoofsaaklik van vergrote druk gebruik maak en doofblindes. Die skoolopleiding strek van voorskoolse onderrig tot matriek en sluit beroepsopleiding in. Voorsiening word gemaak vir gesiggestremde leerlinge met primêre en sekondêre leerstoornisse. ‘n Wye verskeidenheid buitemuurse aktiwiteite sowel as hulpdienste soos mediese versorging, sielkundige voorligting en mobiliteitsopleiding, voorligting aan ouers van voorskoolse kinders en die geestelike versorging van alle kategorieë van gesigsgestremdes vorm ‘n integrerende deel van die program.
Georganiseerde sorg vir volwasse blindes is in 1933 begin to die Werkwinkel vir Blindes geopen is.
Die Instituut gaan uit van die standpunt dat die gesigsgestremde moet bydra to sy aanpassing in die samelewing.
Die leuse Fiat Lux (Latyn vir Laat daar lig wees) verskyn in braillesimbole op die 15c-seël.