Dare to Care: Innovation vier 141 jaar
Innovation for the Blind (IftB) in Worcester het op 15 Junie sy 141ste bestaansjaar gevier.
IftB maak al vir langer as ‘n eeu ‘n meetbare verskil in die lewensgehalte van mense met visuele gestremdhede en voorsien reeds sedert 1881 in die allesomvattende behoeftes van visueelgestremde mense, asook mense met addisionele gestremdhede.
Dit is die enigste organisasie in die land wat die volle spektrum van versorging, terapie en vaardigheidsontwikkeling aan siggestremdes bied en sy missie is om volwassenes met visuele gestremdhede deur opleiding, ontwikkeling en sorg te bemagtig sodat hulle gehalte van lewe en volle burgerskap kan beleef. Die IftB bied dienste aan meer as 350 mense met visuele gestremdhede, onder wie 50 doofblindes.
Hierdie dienste sluit in residensiële sorg, mediese en terapeutiese dienste, vaardigheidsontwikkeling, beskutte arbeid asook ander ondersteuningsdienste soos oriëntasie en mobiliteit.
Die residensiële sorg-afdeling, bestaan uit vier tehuise (Huis Brevis, De Villiers, Jack Pauw en Ebenhaezer) en bied ook ondersteunde behuising in twee woonstelkomplekse waar mense onafhanklik funksioneer, maar steeds toegang tot dienste het. Die vaardigheidsontwikkelingsafdelings bestaan uit die metaalwerkswinkel, tuinbou- en instandhoudingsafdeling, wassery, koffieverpakking- en algemene en kreatiewe projekte, wat rottang-, weef-, verpakking- en ander kontrakwerk op bestelling insluit.
Die Innovation-hulpbronsentrum het verlede jaar geopen, en wat hierdie projek so besonders maak, is dat visueelgestremde mense uit die IftB se eie geledere bemagtig word om die opleiding gedeeltelik of ten volle aan kollegas, mede-inwoners, mense met visuele gestremdhede uit die gemeenskap en IftB-personeel te bied.
Die hulpbronsentrum bestaan uit drie afdelings – ‘n uitbreiding van die bestaande rekenaarlokaal vir doofblinde mense, ‘n rekenaar-opleidingsentrum en barista-opleidingslokaal vir visueelgestremde mense. Opleiding in alternatiewe kommunikasie, Abet-opleiding en braille-opleiding sal ook uit hierdie sentrum geskied.
Vir ‘n organisasie sonder winsbejag, soos Innovation for the Blind, om steeds na 141 jaar volhoubaar te wees en uitstekende dienste aan mense met visuele gestremdhede te bied, is ‘n uitdaging, maar meer nog, ‘n uitsonderlike voorreg.
“Ons opregte dank aan elke individu, skenkersvriend, onderneming, kerklike sektor, trust, stigting en die gemeenskap wat ons die afgelope 141 jaar ondersteun het. Ons is werklik dankbaar vir elkeen wat hierdie reis saam met ons aanpak en ons help om volhoubare ondersteuning aan ons volwasse siggestremdes te bied. Ons sien daarna uit om vir nog baie jare ‘n meetbare verskil te maak!” sê IftB.
Wenslysie
Deel saam met Innovation ons 141ste verjaarsdag deur enige van ons verjaarsdagwense te bewaarheid. Dinge op ons wenslysie is: Kuns- en handwerkmateriaal vir ons terapiegroep, toiletware vir mans en vroue, doeke vir volwassenes en nie-bederfbare kruideniersware. Ander gerieflike maniere om by te dra: virtuele geskenkbewyse (Checkers, Shoprite, PnP, Woolworths, Takealot ens.) SMS BLIND na 40069 om R30 te skenk, of deel ons wenslysie met familie, vriende en kollegas. By voorbaat dankie aan elkeen wat die spesiale mylpaal saam met ons vier. Ons sou nie sonder die hulp van die gemeenskap kon voortgaan om geleenthede te skep vir mense met siggestremdhede nie!
Vir meer inligting, kontak Chimoné by 023 347 2745, stuur ‘n e-pos na info@innovationfortheblind.org of besoek ons webwerf by www.innovationfortheblind.org
